Article Information

Author:
Helena Hoogstad1

Affiliation:
1Subject group Philosophy, School of Basic Sciences, North-West University, Vaal Triangle Campus, Vanderbijlpark, South Africa

Correspondence to:
Helena Hoogstad

Postal address:
PO Box 1174, Vanderbijlpark 1900, South Africa

How to cite this article:
Hoogstad, H., 2014, ‘Redaksioneel – Koers 79, 2014’, Koers � Bulletin for Christian Scholarship 79(1), Art. #2199, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
koers.v79i1.2199

Copyright Notice:
© 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Redaksioneel – Koers 79, 2014
In This Editorial...
Open Access
Dit is aangenaam om die vier afsonderlike bundels met 2014 se artikels vir ons lesers aan te bied. Benewens die normale Koers 79(1)-uitgawe is daar ook drie spesiale uitgawes. Die tema van Koers 79(2) is Christelike leierskap in die werkplek. Dit bevat ’n versameling artikels wat vir vakkundiges sowel as (Christen-)leiers in ’n verskeidenheid werksomgewings van belang is. Die tema van Koers 79(3) is Nuanses in die wysbegeerte van die wetsidee. Hierdie mini-uitgawe bevat uitstaande en gespesialiseerde akademiese bydraes gerig op die verdere kritiese ontwikkeling van hierdie idee binne die reformatoriese filosofie. Die artikel van Marinus Dirk Stafleu waarin hy kommentaar op Danie Strauss se Philosophy: Discipline of the disciplines (2009) lewer, lei die uitgawe in. In drie verdere artikels, waaronder een van Strauss self, word op hierdie bydrae gereageer. Die laaste bundel vir 2014, Koers 79(4), is ’n bekendstelling van sommige van die nuutste navorsing oor Calvyn in ’n temanommer getiteld, Calvyn: Die gesag van God.

Aankondiging: Koers se pad vorentoe

Sedert 2012 word alle artikels op ’n rollende basis aanlyn gepubliseer. Sodra ’n artikel publikasiegereed is, kan dit dus onmiddellik elektronies gepubliseer word. Aan die einde van die betrokke jaar word al die gepubliseerde artikels van daardie jaar in ’n hardekopie byeengebring: een bundel vir alle gewone artikels en afsonderlike bundels vir elke spesiale uitgawe.

Die Koers-argief, vanaf volume 1 van 1934 tot en met die mees onlangs-gepubliseerde artikel, is gratis elektronies beskikbaar. Intekenare ontvang jaarliks ’n hardekopie van die betrokke jaar se bundels.

Vanaf 2012 tot en met die einde van 2014 het Koers van die dienste van AOSIS OpenJournals® en die webbladsy http://www.koersjournal.org.za gebruik gemaak. Vanaf 01 Januarie 2015 sal Koers egter nié meer van hierdie publikasiehuis se dienste gebruik maak nie.

Die enigste amptelike webwerf vir die Koers-tydskrif en die Koersvereniging is vanaf 01 Januarie 2015: http://www.koers.co.za/journal. Koers-lesers sal die volledige artikelargief by hierdie webwerf vind. Outeurs kan hierdie webwerf ook gebruik om artikels vir publikasie voor te lê en om die anonieme keuringsproses aanlyn te volg. Op hierdie webwerf sal boonop gereeld nuus, foto’s, video-opnames en skakels na geesgenootlike organisasies verskyn. Hou hierdie webwerf ook dop vir inligting oor konferensies, nuwe publikasies en spesiale aanbiedings.

Na ongeveer ses jaar as hoofredakteur van Koers het ek die Koersvereniging se bestuur in kennis gestel dat ek vir minstens die volgende paar jaar, nie langer in hierdie hoedanigheid kan funksioneer nie, alhoewel ek steeds aktief as die adjunk-voorsitter van die Koersvereniging betrokke sal wees. Professor Annette Combrink, ’n voormalige redakteur van Koers, neem vanaf 01 Januarie 2015 as hoofredakteur van Koers waar. Sy kan per e-pos gekontak word by: [email protected]

Koers se lesersgetalle het skerp gestyg en die blad se sigbaarheid het met sy verskyning op prestige-platforms soos SciELO-SA en die Scopus-databasis verhoog. Sodra ’n Koers-artikel gepubliseer word, word die volledige teks in databasisse soos GALE, CENGAGE Learning, ProQuest, SciELO-SA, Google Scholar, EBSCO Host, SAePublications, Sabinet en Directory of Open Access Journals geargiveer. Gedurende die eerste helfte van 2014 is Koers-artikels meer as 96 000 keer afgelaai. Dit impliseer dat ons meer lesers as ooit tevore het. Die mees onlangse ASSAF-eweknie-evalueringsproses het ook aangetoon dat Koers as ’n blad van gehalte gereken word.

Daar is rede om vir die gunstige posisie waarin Koers verkeer, dankbaar te wees. Die groeiproses van Koers het plaasgevind ten spyte van vele oorgange gedurende die laaste paar jaar, waarvan die sluiting van die Buro vir Wetenskaplike Tydskrifte en die geleidelike wegkalwing van die tradisionele akademiese ondersteuningsgemeenskap verband hou met die oorgang van die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys na die nuwe Noordwes-Universiteit.

Koers kon die reformatories-filosofiese kern eie aan die tydskrif behou, terwyl die veranderende omgewing nuwe, inklusiewe(r) gespreksmoontlikhede open. Minder homogene groeperings kan waardevolle gespreksvennote wees indien hulle grondvrae belangrik vind, ons akademiese hulpbronne aan die religieuse aansprake wat daaroor gemaak word, wil toets en die uitdagings wat op ’n sosiale vlak aan ons gestel word, ernstig en betrokke wil hanteer.

Benewens ’n openheid om die Christelike wetenskap te midde van ’n gesprek waarin ’n ander tongval hoorbaar is, te bevorder, staan Koers voor die volgende uitdagings:

• Om ’n jeugdiger ondersteuningsbasis oor kleur-, gender-, en taalgrense heen aktief uit te bou met jongmense en studente wat as lesers, outeurs, organiseerders, werwers en redaksionele werkers betrek word;
• Om die groeiende internasionale kontak met tradisioneel-bekende geesgenote soos Dordt College, die Vrije Universiteit in Amsterdam, Calvin College, die Association of Reformational Philosophy, Redeemer University College, Trinity Christian College en die Institute for Christian Studies te verstewig;
• Om met sustersinstellings in Afrika, Suid-Amerika en Oosterse lande kontak te maak en verhoudings uit te bou;
• Om finansiële ondersteuning van ondersteuners en nie net van ’n spesifieke instelling nie, te vra;
• Om opnuut kontak met religieuse gemeenskappe op te neem waaruit ’n gedeelde visie vir die samelewing konkreet in bepaalde praktyke en instellings, asook akademiese probleme neerslag kan vind.

Te midde van die seëninge wat Koers ervaar, is daar egter nou heelwat werk wat gedoen moet word sodat die beoefening van die Christelike wetenskap, ook deur Koers, tot die heling en groei van ons wêreld kan bydra.